Die Dans van die Watermeid

Nuwe Afrikaanse drama open by Baxter

Amee Lekas se Die dans van die watermeid, wat ’n jaar gelede met Kunste Onbeperk se eerste Teksmark in Kaapstad nog net op papier bestaan het, is eersdaags as ’n volwaardige produksie by die Baxter-teater te sien.

Uit die kort uittreksels van 14 tekste is Lekas se debuutteks deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teater opgeraap om verder te ontwikkel.

Die dans van die watermeid het aangegryp met die beeldskone taalgebruik, die hartverskeurende verhaal wat Lekas vertel en die unieke blik op die mense uit haar grootwordwêreld in die skilderagtige Willowmore-streek in die dorre Klein-Karoo. Die gehoor was totaal oorrompel deur die krag en eenvoud van die teks.

Lekas het onder mentorskap van die bekroonde dramaturg Saartjie Botha die teks voltooi. In die proses het Lekas dieper gedelf in die wêreld waarin die watermeid nie net ’n voorbode is nie, maar ook ’n inherente deel van die bestaanswêreld van die gemeenskap. Die storie wentel rondom hul verknogtheid aan hul bygelowigheid en die rol wat die kerk speel in teenstelling hiermee.

Die dans van die watermeid takel ook sosiale kwessies soos jong mense van vandag wat ’n stryd voer sonder die vooruitsig van werk of ’n beter lewe en die dinge wat gemeenskappe onder die mat invee. Dít alles onder die neus van die kerk. Intussen weerklink die ritme van die dans van die watermeid wat die jong meisies kom verlos wanneer die reën kom.

Lekas verduidelik die aansporing vir die skryf van die teks as volg: “In my benoudheid en frustrasie as kunstenaar het ek eers die seer van my naaste herken. Ek het bloot net in genade ’n kans gevat om die storie van Die dans van die watermeid te skep met die hoop dat iemand in my nood ook ander se seer sou raaksien.”

Jason Jacobs, wat onlangs vereer is met Kunste Onbeperk se Nuwe Stem- prys, behartig die regie onder die mentorskap van Lara Foot, artistieke en uitvoerende hoof van die Baxter-teatersentrum.

Die uitgelese rolverdeling sluit in Rehane Abrahams, Abduragman Adams, Elton Landrew, Ephraim Gordon, Gretchen Ramsden, Celeste Matthews en Deidre Jantjies.  Die bekroonde ontwerpers Birrie le Roux en Patrick Curtis is onderskeidelik verantwoordelik  vir die ontwerp van die kostuums, en die stel en beligting.

Die speelvak sal saamval met die tweede Teksmark wat deur Kunste Onbeperk aangebied word met die ondersteuning van NATi en die Baxter-teatersentrum.

Die dans van die watermeid speel van 1 tot 25 November in die Baxter Golden Arrow Studio. Vroeë-afslag-besprekings kan nou gedoen word. Bespreek by Computicket by 0861 915 8000, aanlyn by www.computicket.co.za of by enige Shoprite- of Checkers-winkel. Vir blokbesprekings kontak Sharon by 021 680 3962, e-pos sharon.ward@uct.ac.za, of Carmen Kearns by 021 680 3993, e-pos carmen.kearns@uct.ac.za

1 Nov - 25 Nov

Starts: 8:15 pm

Additional Performances:
2 Nov - 8:30 pm
8 Nov - 8:30 pm
11 Nov - 3:00 pm
15 Nov - 8:30 pm
21 Nov - 8:30 pm

Drama / Golden Arrow Studio

Amee Lekas se Die dans van die Watermeid was in 2016 een van die tekste wat voorgelê is tydens Kunste Onbeperk se Teksmark. Lekas is ’n opwindende nuwe stem in Afrikaanse teater. Die teks en produksie is deur NATi in samewerking met die Baxter Teater ontwikkel.

Prices

R120
Groepsbesprekings van 10+ R80
Studente & Pensioenarisse R60